Tankwa Accommodation   Tankwa Karoo
BACK

Die Storie van die Blou Peugeot


By Tankwa Padstal Korrespondent
Published on 22 July 2021
Ons het by Leon Mostert, die laaste eienaar van dié spesiale motor gaan aanklop vir die "inside story". Hy het vir ons twee stories gegee: Een oor die geskiedenis en een oor die begrafnis... Ons deel dit graag met julle met die nodige krediet aan elke liewe een wat deel hiervan was.

Die Storie van die blou Peugeot


Oom Piet Linde van Bonnievale was die eerste eienaar van die 1979 Peugeot 504 GR en Leon Mostert het dit in 2014 gekoop as sy Nuts & Bolts Rally voertuig. Aangesien ons grootliks grondpad ry was dit 'n droom motor om op daardie paaie te ry.

Tydens die eerste rit het die motor se enjin aan die brand geslaan in die Gannagapas oppad tussen die Tankwa Padstal en Middelpos oppad na Brandvlei. Die petrolpomp (na-diens elektriese pomp) het te veel petrol gepomp en dit op die manifold gemors wat die oorsaak was. Gelukkig was daar 'n 3 liter #SauvignonBlanc van Robertson Wynkelder byderhand en dit het Wynkaptein se lewe gered.

Met die hulp van die ander ryers was hy weer op die pad binne 40 minute.

Wynkaptein het ons na plekke soos Middelpos, Brandvlei, Verneukpan, Loeriesfontein, Nieuwoudtville, Aurora, Lutzville, Strandfontein, Gharies, Lepelsfontein, Kotzesrus, Sutherland, Ronnie se Sexshop en vele ander geneem. Sommige ritte was met minder probleme as ander kere en om Wynkaptein met n oop bonnet langs die pad tesien was 'n algemene gesig.

Tydens die laaste tog (Okt 2016) na Sutherland via Oubergpas het Wynkaptein ernstige gesondheidsprobleme opgetel. Die rit is sonder uitlaatstelsel en skokbrekers en net op die coil springs teen 25 km/h voltooi. Kort daarna het Wynkaptein na Hermanus verhuis waar die nuwe eienaar alle werkende parte gestroop het en die res van die motor geskenk het om te begrawe.

Wynkaptein is met volle Nuts & Bolts eerbetoon begrawe by die Tankwa Padstal op Saterdag 20 Mei 2017

'n Karbegrafnis


Nuts & Bolts Rally is op pad na die Tankwa Padstal om Suid-Afrika se eerste karbegrafnis te hou. Die groep bestaan uit 'n klomp manne wat van ouer motors, verlate stofpaaie, koue bier en brannas hou en vir hul naaste omgee.

Nuts & Bolts is 'n broederskap van ouens wat, bo en behalwe, van ouer karre en sportsmaak hou, geld insamel vir kankerlyers.

Die karre moet ouer as 1986 wees. Bloot omdat tjorre uit daardie jare vir lede sentimentele waarde inhou. Ford F100s & F250s, Anglias, Cortinas, en Chev Commando. En hierdie was die karre wat die manne in die 1960s en 70s opgesoep het met kroumrims en breë tekkies wat knap binne melkbottel-uitgerolde wielboë pas, tuisgemaakte turbo's, rooi fykfur op die dêshborde, resiesstrepe, scoops en spoilers. En jou cherrie op die skaapvel sietkawwer op pad na 'n uitsigpunt waar die stad se liggies binnekort in haar ogies gaan skitter. Die eight track loop oor van Jim Reeves. En die zef-hondjie in die agtervenster wat sy ogies betaamlik toemaak. Hopelik.

Pieter Andersen is die koning Arthur van hierdie Ridders van die Ronde Roetes (hul renne bestaan gewoonlik uit sirkelroetes).

Nuts & Bolts is 'n broederskap van ouens wat, bo en behalwe, van ouer karre en sportsmaak hou, geld insamel vir kankerlyers, vertel hy nadat hy 'n paar windgat esse met sy Corolla by die bymekaarkomplek iewers tussen Karoospoort en die Tankwa Padstal op die R355 tussen Ceres en Calvinia gegooi het.

Braaivleisvure brand. Manne en vroue in begrafnisklere deur Hein Eksteen getooi drink lang sakramente vir geestesvoorbereiding. Hulle deel ook mildelik uit. 'n Brandsiek wegloophond kom aangedraf, geroep deur die belofte aan 'n stukkie wors en water. Hy kry sy aalmoes.

Ons vertrek na die #padstal toe waar Wally reeds die graf met sy geelmasjien gegrou het. Iemand wonder hardop of die wegloophond nie as Nuts & Bolts se gelukbringer saamgeneem moet word nie. André Stander laai die brak plotseling in en doop hom Nuts.

Pieter: Ons begrawe vandag 'n 1979 Peugeot GR. Die ding het 'n paar jaar gelede teen die Oubergpas aan die brand geslaan en die manne moes die vlamme met 'n drie liter boks wyn doodgooi. Maar hys weer heelgemaak, want daars niks wat rally- en stock daaren car-mekênnieks nie langs die pad kan regmaak nie. Later, teen die Gannagapas val die bliksem se exhaust-system af. Toe besluit ons: Voordat iemand weer probeer om die kar reg te maak, begrawe ons hom eerder.

Die begrafnisgangers staan hoofde omlaag om die oop graf. Die lyk word kop eerste ter aarde bestel met die stertkant wat na die volgende lewe reik.

Johan Moelich lewer namens die dooie n elegie: Nou ja, boys en girls van Nuts & Bolts, dis tyd om te groet. Gaan in vrede en doen net goed. Kom kuier so af en toe vir 'n koue bier en 'n lekker lag. Ek sal hier, gat omhoog, vir julle wag.

Ons sit later die middag langs Wally se plaspoel. Die een waarin snoeke uit die dode opstaan. Die oorlede Peugeot met sy agterstewe afgeteken teen die berge sal nie weer opstaan nie. Maar Nuts, waar hy rondgevreet in André se arms lê, is van 'n lewende dood gered.

En dit is 'n viooltjiestorie uit n plek met woestynblomme wat die waarheid fleur.

Met erkening aan Hein Eksteen & Plaastoe tydskrif (September 2017) vir artikel en foto's.
Wynkaptein

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies. See our Privacy Policy.
Tankwa hiking
COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal
Website development by PrimeLogic. Copyright Tankwa Padstal 2022-2024. All rights reserved. V1.0.3

Tankwa
Sign In